Dis nou pruimtyd – perfek vir hierdie heerlike nagereg met die soetsuur smaak. Maak die deeg en vulsel al die vorige dag.
DEEG
• 250 g (445 ml) koekmeel
• 125 g (135 ml) botter, in blokkies gesny
• 50 g (60 ml) strooisuiker
• 1 eiergeel
• 45 ml koue water
VULSEL
• 16 pruime
• 5 ml fyn kaneel
• 200 g (250 ml) suiker
• 100 g (110 ml) botter
• 100 ml heuning
PLUS
• 1 geklitste eier
• versiersuiker vir oorsif
• 250 ml room
Deeg Plaas meel en botter in voedselverwerker se bak. Meng tot botter in meel ingewerk is. Voeg suiker by. Klits eiergeel en water saam in bakkie en voeg by. Meng tot deeg vorm. Haal uit en maak deeg toe met kleefplastiek. Plaas in yskas tot benodig.
Vulsel Verhit oond tot 200 °C. Halveer pruime en verwyder pitte. Sny halwe pruime in kwarte. Plaas in oondbak en gooi kaneel en suiker oor. Stip botter oor en sprinkel met heuning. Plaas in oond en bak 1 uur tot pruime sag is. Haal uit en laat afkoel. Haal deeg sowat 30 minute voor jy dit gaan uitrol uit die yskas. Spuit 6 losboom-quiche-pannetjies van 8 cm in deursnee met kleefwerende kossproei. Rol deeg uit op meelbestrooide werkvlak. Voer pannetjies uit met deeg en skep afgekoelde pruime in. Sny patrone uit oortollige deeg en versier vulsel bo-op. Smeer dié stukkies deeg met geklitste eier en plaas pannetjies op ’n bakplaat. Plaas in oond en bak 35 – 45 minute.
Haal uit oond en laat effens afkoel. Haal tertjies uit pannetjies en sif bietjie versiersuiker oor. Sit voor met room.
The post Franse pruimtertjies appeared first on SARIE.