As jy hou van lekker eet, is Breestraat dié plek vir jou. Nie net het SARIE KOS al vir ons lesers vertel hoe gewild dié straat se eetplekke is nie, selfs die Amerikaanse Vogue het hul gunsteling-plekke in Breestraat aangewys.
Lees die volledige storie hier.
In SARIE KOS Desember 2015/Januarie 2016 het ons gesels met koskenners en gewone mense wat proe-proe die straat verken – en hulle stem saam: Niemand sal honger (of teleurgesteld!) huis toe gaan nie.
Barbara se gunsteling-eetplek in Breestraat: Charango Grill & Bar. Dis ’n Peruaanse restaurant en my gunstelinge op die spyskaart is hul geskroeide (seared) tuna tataki en natuurlik hul steak. Die restaurant het ’n baie lekker atmosfeer en jy moet bespreek.
Lewendig, opwindend en talle opsies. Hier’s wat Breestraat jou kan bied.
Straatkos by Chefs Warehouse and Canteen (Breestraat 92)
Sjef Liam Tomlin is aan die stuur en sý filosofie is eenvoudig: Almal het die reg om lekker en goed te eet. Tapas is Chefs Warehouse se ding. Die spyskaart verander daagliks en jy kan nie vooraf bespreek nie.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
IYO Burgers (Inside & You’re Out) (Breestraat 103)
Al gehoor van burgers met bederwe soos avokado, brie-kaas, kasjoeneute, roket en ’n whisky-braaisous? Dis maar ’n paar van die ongewone kombinasies op dié sogenaamde “etiese burgers”. Slegs plaaslike bestanddele word ingespan, die koppies, bekers en glase word vervaardig van herwinbare glas en die personeel dra uniforms van organiese katoen en hennep. Hul doelwit? Om die omgewing te respekteer en terselfdertyd die heel lekkerste burgers te maak.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Weinhaus + Biergarten (Breestraat 110)
’n Gróót pluspunt is die musikante en lang tafels waar jy met oorgawe kan kuier. Bestel ’n bier en kuier heerlik saam met jou vriende.
Besoek hul Facebook-blad vir meer inligting.
Max Bagels (Breestraat 120)
Speel jy is iewers in New York. Want mense wat hier bagels eet, reken dit smaak nés die Amerikaners dit maak. Een van hul gewildste vulsels is gesoute beesvleis met ’n agurkie en mosterd. Elke bagel word voorgesit met roomkaas.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Birds Boutique Café (Breestraat 127)
Verwag heilsame geregte soos quiche of vegetariese risotto. Vir die suikertand is daar ook gawe opsies.
Besoek hul Facebook-blad vir meer inligting.
Bocca-restaurant (H/v Waal- en Breestraat)
Bocca beteken “mond” in Italiaans en dit is erg gepas. Hier gaan dit mos oor lekker eet. Dink aan die Italiaanse Mama se beproefde resepte – maar in ’n byderwetse omgewing.
Dié restaurant is die tweede skepping van Neil Grant, wat afgeskop het met die bekroonde Burrata by The Old Biscuit Mill in Woodstock.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Jason’s Bakery (Breestraat 185)
By die heerlike bakkery is die gewilde “Cronuts” en “Doussants” beslis ’n móét-eet. Om teleurstelling te voorkom, bel en gee jou bestelling vir dié fyngebak.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Culture Club Cheese (Breestraat 215)
As jy ’n kaasliefhebber is, sal jy beslis nie met leë hande daar uitstap nie.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Mother’s Ruin Gin Bar (Breestraat 219)
Noem dit ’n soort jenewer-buffet – met plaaslike en internasionale jenewer. Daar’s skemerkelkies wat jou sal omboul … en deesdae tot ’n kinawater met kaneel wat ’n bietjie spin op die klassieke G&T sit.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Orphanage Cocktail Emporium (Breestraat 227)
Dit word bestempel as die Prada van cocktail bars. En as jy ’n slag lus is vir iets anders, moet jy beslis ’n skemerkelkie hier kom geniet.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Sababa Kitchen & Deli (Breestraat 231)
In dié eetplek met sy magdom gesonde, kleurryke, geurige Midde-Oosterse en Mediterreense kos gaan jy nié vermaak word deur ’n buikdanser nie, maar wél wegstap met ’n knus “magie vol, ogies toe”. Dis ’n klein, moderne ruimte.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
Clarke’s Bar & Dining Room (Breestraat 133)
Soms wil jy voel of jy sommer saam met jou beste vriende om die tafel kuier wanneer jy uiteet. Probeer hul Weskus-oesters met fyngekapte salot en rooiwyn-asyn, “ryk en vetterige” beesvleis-hamburger met ’n dik skyf kaas en dubbelgebraaide slaptjips.
Besoek hul webwerf vir meer inligting.
– Hou jou lyf trots Suid-Afrikaans en gaan besoek Breestraat in Kaapstad.
Lees nou
The post Amerikaners sien Kaapse Breestraat raak appeared first on SARIE.